X

Die belangrikheid dat ‘n huis goed moet vertoon in die verkoop proses.

 

Die belangrikheid dat ‘n huis goed moet vertoon in die verkoop proses kan nie oorbeklemtoon word nie, sê ‘n eiendoms direkteur
Die enorme belangrikheid om ‘n huis wat op die mark is voor te berei en op ‘n aanloklike manier aan te bied of te wel te ‘window dress’ word ten volle besef deur die meeste eiendoms agente, maar ten spyte daarvan dat hulle dit keer op keer beklemtoon teenoor hulle kliënte, word hierdie advies dikwels geïgnoreer of half-hartig aanvaar, sê Rowan Alexander, direkteur van die nuwe Kaapse eiendomsgroep in die Noordelike voorstede,  Alexander Swart Eiendom.

 

‘Enigeen wat residensiële eiendom vir ‘n wyle verkoop het, sal besef dat dit noodsaaklik is om die huis aan te bied op ‘n sensueel aanloklike wyse’ sê Alexander. ‘Die verkoper moet ‘n behoefte vestig in die potensiële koper  om die huis te wil koop en daarin te wil bly omdat dit aanloklik is vir hom.
‘Indien die eienaar nie die huis op die optimale wyse ‘aanbied’ nie, maak dit die taak van die agent soveel moeiliker, al is hy of sy ‘n uitmuntende verkoopspersoon- en dit is waarskynlik dat die huis nie net langer sal neem om te verkoop nie, maar sal ook nie die beste, moontlike prys haal nie.’
‘Wat die huisverkoper moet besef’, sê Alexander, ‘is dat die potensiele koper grootliks deur emosie oortuig sal word, veral indien die eiendom sy primêre woning sal wees, en nie ‘n belegging is wat uitverhuur sal word nie.’

 

‘Ander faktore, soos prys, ligging naby skole en die werkplek of die reputasie van die area waarin die huis geleë is, sal alles ‘n invloed op die koper se besluit hê. Dit gesê, is die ‘binnestem’ of die emosionele reaksie op die eiendom, dikwels die deurslaggewende faktor. Indien die koper sterk aangetrokke tot die eiendom voel, sal hy heel waarskynlik ander faktore, soos byvoorbeeld  dat die huis 3 eerder as 4 slaapkamers moet hê, of ‘n enkel in plaas van ‘n dubbel motorhuis, oor die hoof sien, en ‘n aanbod maak ten spyte van hierdie tekortkominge.’

 

Die koper se emosionele reaksie tot die huis, sê Alexnader, sal positief beïnvloed word indien die verkoper na die huis kyk vanuit die oogpunt van ‘n vreemdeling wat dit die eerste keer sien: so ‘n reaksie mag negatief wees indien hy of sy sien dat dele of die hele huis ‘n nuwe verflaag nodig het, indien deur handvatsels los is, indien deure gate in het, indien vensterrame geroes is of indien die baddens verbetering nodig het, indien die gordyne of matte vlekke het of voos is of indien ‘n warboel boeke, tydskrifte, tuin toerusting, kinderspeelgoed of sporttoerusting orals rondlê en nie weggepak is nie.
‘Ons sê altyd vir verkopers om na ‘n minimalistiese, skoon toestand te mik’ sê Alexander. ‘Dit is veral belangrik in die gemeenskaplike leefareas soos die woon- of TVkamer, die kombuis en die badkamers, waar die persoonlikheid van die verkoper die meeste deurskemer.’

 

‘Aandag moet veral gelet word’ sê Alexander ‘om seker te maak dat daar nie reuke van troeteldiere of kokery moet wees nie. Die verkoper mag gewoond geraak het hieraan- maar hierdie reuke moet hok geslaan word met lugverfrissers of deodorante – vars blomme op strategiese areas in die huis sal die aanloklikheid van die huis verbeter en help om reuke te verwyder. Hierdie tekortkominge is nie net ongewensd nie, maar sal waarskynlik deur die koper gebruik word as ‘n onderhandelings taktiek.
Om dinge reg te stel voor kopers toegelaat sal word in die huis, mag meer kos as wat die verkoper bereid is om te betaal, maar hierdie uitgawes is omtrent altyd die moeite werd, en draai veelvoudig by tot die finale waarde van die huis. Om professionele persone in diens te neem om die aanloklikheid en aanbieding van die huis te verbeter is omtrent altyd die moeite werd, het Alexander gesê.

 

Spesiale aandag, voeg hy by, moet ook gegee word aan die huis se straataansig, die tuin, die swembad, die heinings en hekke van die eiendom. Hierdie is die eerste dinge wat die potensiele koper sal sien, en as dit nie op standaard is nie, kan dit die verkeerde indruk skep, selfs indien die binnekant spoggerig is.
‘Heel dikwels’ sê Alexander ‘het die voornemende koper hom verbind om na verskeie huise te gaan kyk en sal aanry na die volgende huis indien die straataansig van die huis nie voldoende aanloklik lyk nie. Dit is noodsaaklik om die aanbiedings proses te begin deur aandag te gee aan eksterne tekortkominge.’

22 Aug 2017
Author Independent author
239 of 264